Lojaliteit is wysheid

Welkom!

Welkom by Kruispad se interaktiewe Bybelstudiegids!
By hierdie pitstop kan jy inspirasie vir jou wandel saam met God vind. Hierdie gids kan ook ingespan word vir gesprekke met jou gesin, vriende of kollegas om saam die geloofspad te stap.

Omgeevraag vir groeplede

Wat is jou grootste behoefte/wens op die oomblik?

Lojaliteit is wysheid

Krisisse in ons lewe toets of ons geloof sterk genoeg is. Dit kom trek die prentjie van ons hart. Uitdagings op ons pad kom bestudeer die prentjie en vra of ons die toets maak. Is jou geloof sterk genoeg? Wanneer al die doekies afgedraai is, staan daar ’n geloof wat deur dik en dun sal bly glo, maak nie saak hoe groot die branders en winde van die lewe is nie?

So eenvoudig soos dit: 12Die Here gebruik slegte of moeilike dinge in ons lewe om te kyk of ons lojaal aan Hom gaan bly.

Baie keer wil ons dit nie hoor nie. Baie keer as dit so swaar gaan, vra ons waar God is en as ons hoor Hy gebruik dit, staan ons gou boos met ons armpies in die sye.

Maar hoor mooi hier. Die vers sê nie dat God die outeur is van die swaar waardeur jy moet gaan nie. Hy gebruik dit net. Terwyl jy nou daar in tamatiestraat sit, kyk Hy hoe die prentjie van jou geloof lyk. Daar waar daar nie meer doekies omgedraai word nie.

Maak seker dat jou geloof in God diep gesement is, sodat dit stewig sal bly staan te midde van die woeste winde en golwe van lewe. Hiervoor het ons ’n hoop wysheid nodig. Laat ons dit dan bid van die Een in wie ons geloof hang.

Wat sê God se Woord

Vers van die week:

Jakobus 1:12 (Die Boodskap)

Die Here gebruik slegte of moeilike dinge in ons lewe om te kyk of ons lojaal aan Hom gaan bly.”

Lees meer:

Psalms 119:25-32 (NLV)
“Ek lê in die stof op pad na die graf;
laat my herlewe volgens u woord.
My optrede het ek bekendgemaak, en U het geantwoord.
Leer my nou u voorskrifte.
Leer my verstaan die betekenis van u bevele,
sodat ek u wonders kan oordink.
Ek huil van droefheid;
versterk my soos U in u woord beloof.
Bewaar my van leuenagtige weë;
leer my in genade u gebooie.
Ek het die betroubare pad gekies;ek lewe volgens u bepalings.
Ek hou vas aan u voorwaardes,Here
Moenie dat ek in skande kom nie!
Ek sal die pad van u gebooie navolg,
want U sal my begrip verbreed.”

Dink hieroor ...

Jakobus: 'n Nuwe manier van lewe in moeilike tye

* Het jy geweet? Kortste vers in die Bybel

"Oceans"

 

Gebed

Vader, ek is nie goed onder druk nie. Die prentjie wat gewys word, is nie altyd so mooi nie. Ek vermoed dis omdat my geloof nie stewig genoeg in U gegrond is nie. Help my om my geloof in U te versterk, sodat dit die winde en storms van die lewe kan deurstaan. In Jesus se Naam, amen.

Het jy 'n vraag?

Kliek hier om ‘n vraag te vra.