Balans, balans, balans
Welkom!
Welkom by Kruispad se interaktiewe Bybelstudiegids!
By hierdie pitstop kan jy inspirasie vir jou wandel saam met God vind. Hierdie gids kan ook ingespan word vir gesprekke met jou gesin, vriende of kollegas om saam die geloofspad te stap.
Omgeevraag vir groeplede
Hoe gereeld maak jy tyd om rustig te wees in absolute stilte?

Balans, balans, balans
Min van ons sal seker erken dat ons lewe rondom rykdom en status draai. Ons weet mos ons waarde lê by God. En tog, is dit maklik dat ons prioriteite net so effens uit balans wankel. Die vrot vrugte daarvan is dikwels baie subtiel, maar as jy mooi kyk sal jy dit raaksien. En as ons dit vir te lank ignoreer, trek ’n mens skeef en loop dit op ’n krisis uit.
In die verlede en ongelukkig nog soms, was my tydsbesteding nie in balans nie. Ek het baie tyd by die fabriek of op die plaas spandeer. Selfs in die bediening het ek tot laat gewerk en die netto-effek was dat daar tyd van die familie gesteel is. Die tyd was nie in balans nie.
Nog steeds sukkel ek om my bord kos in balans te kry. Ek sukkel nog steeds om my eetgewoontes in balans te kry en vir seker het die wanbalans ’n impak in my lyfie.
Ek sien baie mense wie se huwelike nie in balans is nie. Die een trek daai kant toe en die ander na ’n ander kant toe. Ons verskil te veel en daarom moet ons maar ons eie paaie stap. Balans, balans, balans.
En ek vermoed dat die duiwel baie van ons nie versoek om iets te steel of iets aan iemand te doen nie, maar eerder om ons aan te jaag om net so-effe aan iets te timmer sodat dit uit balans is.
Ag, jy is so ’n goeie werker. Jy wil mos bo uitkom. Spandeer nog net ’n bietjie meer tyd. Jy sal jou beloning ontvang. Sonder aankondiging val jou verhoudings uitmekaar, want jou tydspandering is uit balans.
Maak nog ’n bietjie meer geld. Dan kan jy lekker vakansie gaan hou en daai huis of kar koop wat jy nog altyd wou gehad het. En dan vir slenter na die tyd – dan kan jy ander nog meer help.
Dis alles ’n leuen.
Wanneer ons finansies nie in balans is nie, val ons gou van die pad af. Dis sulke tyd wat die van balans af wees ons laat dink dat geld is alles en dat dit is waar werklike vreugde is.
Dis ’n leuen.
Daarom dat ons by God se voete moet uitkom. Jy sien, dis hier by God se voete, waar ons besef wat is in balans en wat nie. Mag jy moeite doen om hier uit te kom. Hier sal jy sien hoe klein ons eintlik is en sal alles om jou in balans val.
Wat sê God se Woord?
Vers van die week:
Jakobus 1:9-11 (Die Boodskap)
“9… Die rykes in die groot huise moet weet dat die status wat geld gee, nie by God tel nie. 10Sulke mense moet liewer laag by God se voete gaan sit met die besef van hoe klein hulle eintlik voor God is. Rykdom of status hou nie lank nie, net soos ’n wilde blommetjie in die veld. In die oggend lyk die blommetjie te pragtig. 11Maar dan begin die son bak. Teen die middag hang daardie mooi blommetjie verlep en teen die aand is daar niks van hom oor nie. Die blaartjies lê saam met die mooiheid van die blommetjie verskroei op die grond. So is die pad van rykdom. Die ryk man sal tussen al sy status en geld ook maar soos die blommetjie verlep en sterf. En wat help dit alles hom dan?”
Lees meer:
Lukas 10:38-41 (1983-vertaling)
“Op hulle reis het Jesus in ‘n dorp gekom waar ‘n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. Sy het ‘n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!” Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”
Gejaagdheid - die siekte van ons tyd
"Build Your Kingdom Here"
Gebed
Hemelse Vader, die wêreld om my verwar my oor hoe balans werklik lyk. Wys my asseblief wat ek anders moet begin doen en gee my die moed om dit te doen. In Jesus se Naam, amen.